Goue apporteerhond

Goue apporteerhond

'n Goue apporteerhond of golden retriever is 'n mediumgrootte, goud- of roomkleurige hond. Die goue apporteerhond word tydens die jag van watervoëls, byvoorbeeld eende en ander wilde voëls, gebruik om die dooie wild te gaan optel en na die jagter te bring. [1] Die ras het 'n buitegewone vermoë om die prooi sagkens in hulle bekke op te tel en te dra, sodat die dooie wild onbeskadig na die jagter teruggebring word. Goue apporteerhonde het 'n instinktiewe liefde vir water, en dit is maklik om hulle na basiese of gevorderde gehoorsaamheidsvlakke op te lei. Dit is 'n ras met lang hare, met 'n digte onderste laag wat hulle voldoende hitte bied in koue weer buite die huis. Hulle buitenste laag hare lê plat teen hul liggame en weer water af. Goue apporteerhonde aard goed in voorstedelike of plattelandse omgewings. Hulle gee baie hare af, veral tydens seisoensveranderings, en benodig redelike gereelde versorging. Die goue apporteerhond is oorspronklik in die middel van die 19de eeu in Skotland geteel. [2]

Die ras is 'n prominente deelnemer aan hondeskoue vir rasegte honde. Goue apporteerhonde is gewild as hulpverleningshonde vir diegene met gestremdhede, byvoorbeeld as 'n gidshond vir blindes en 'n gehoorhond vir dowes. Daarbenewens kan hulle ook as 'n jaghond en 'n opsporingshond, en om deel van 'n soek- en reddingsoperasie te wees, opgelei word. Die ras se vriendelike, minsame geaardheid het tot gevolg dat hulle nie geskik is om 'n professionele waghond te wees nie. Hulle innemende geaardheid maak hulle egter die derde gewildste honderas vir gesinne (per registrasie) in die Verenigde State, [3] die vyfde gewildste in Brasilië [4] en Australië, [5] en die agtste gewildste in die Verenigde Koninkryk. [6] Goue apporteerhonde is selde kieskeurige eters, maar benodig voldoende oefening (twee of meer uur per dag). [7] Die ras is lief vir speel, maar is ook hoogs opleibaar.

  1. "Sporting Breeds: Golden Retriever". Animal Forum.com. (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Junie 2016. Besoek op 30 November 2007.
  2. Golden Retrievers: History. K9web.com. Retrieved on November 30, 2007.
  3. "AKC Dog Registration Statistics" (in Engels). AKC.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2017. Besoek op 20 Julie 2011.
  4. "Conheça as 10 raças de cães preferidas entre os brasileiros" (in Portugees). Terra. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2020. Besoek op 5 September 2017.
  5. "Pedigree Dogs Exposed – FAQ" (in Engels). RSPCA Australia. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 April 2013. Besoek op 3 Augustus 2010.
  6. "Top twenty breeds in registration order for the years 2008 and 2009" (PDF). The Kennel Club. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 16 Mei 2011. Besoek op 1 Augustus 2010.
  7. "Breed information centre – Retriever (Golden)" (in Engels). The Kennel Club. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Julie 2013. Besoek op 23 Augustus 2013.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy